"'n Voelboek", noem die bekroonde digter Johan Marais sy vyfde bundel. By die natuurliefhebber roep dit dadelik assosiasies van 'n naslaanboek op. En dan, op die opdragblad, asof die digter sy leser doelbewus met hierdie assosiasie wou mislei, waarsku hy in Walt Whitman se woorde: "You must not [...] be too precise or scientific about birds and trees and flowers [...]." Die gedigte bly egter gemoeid met die wetenskaplike benadering tot voels, en hierdie spel van teenstelling en gelykmaking word deur die hele bundel voortgesit.