Dit speel in die tyd van die Bolandse dorpies se aardbewing af toe selfone, TV’s en sulke luukshede nog nie daar was nie. Tussen die hartseer, kommer en trauma in die verhaal, ontwikkel ‘n mooi en teer liefde tussen twee mense wat al hul najare begin bereik het. Nie een van hulle twee het geweet hulle kan nog so vol verlange en begeerte wees nie, dat die bloed nog so bruisend soos in hul jongjare deur hulle are kan vloei nie. Maar daar is ook ‘n adder wat hulle uitmekaar wil hou, en dit wil-wil lyk of sy dalk kan slaag.
Nadat ‘n man haar onder valse voorwendsels van haar geld beroof het, is dokter Elmine se dokterspraktyk in die moeilikheid. Sy weet nie watter kant toe om ‘n bestaan te kan maak nie. Cor se vreemde huweliksaansoek blyk aanvanklik vir haar na ‘n gekkespul, maar gou besef sy sy het eintlik geen ander oplossing vir haar eie probleem nie. Nie sy of Cor wil ‘n werklike huwelik hê nie, maar hierdie reëling is vir albei ‘n middel tot ‘n doel...